Mosambiekeiland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Mosambiekeiland

Ilha de Mocambique
Uitsig oor Mosambiekeiland
Uitsig oor Mosambiekeiland
Mosambiekeiland is in Mosambiek
Mosambiekeiland
Mosambiekeiland
Koordinate: 15°02′18″S 40°44′01″O  /  15.03833°S 40.73361°O  / -15.03833; 40.73361 Koordinate : 15°02′18″S 40°44′01″O  /  15.03833°S 40.73361°O  / -15.03833; 40.73361
Land Vlag van Mosambiek  Mosambiek
Provinsie Nampula
Oppervlak
 ? Totaal 1,5 km 2 (0,6 vk. myl)
Bevolking
 ? Totaal 54 315
 ? Digtheid 36,210/km 2 (93,8/vk. myl)
Tydsone UTC+2 ( SAT )

Mosambiekeiland ( Portugees : Ilha de Mocambique ) is 'n eiland en stad in Mosambiek met 54 315 inwoners (2005), wat deel uitmaak van die provinsie Nampula. Mosambiekeiland, wat sy naam ook aan die voormalige Portugese kolonie en huidige onafhanklike republiek in die suid-ooste van Afrika verleen het, is danksy sy historiese geboue deur die UNESCO in 1991 tot werelderfenisgebied verklaar.

Geografie [ wysig | wysig bron ]

Die smal eiland met 'n oppervlak van een-en-'n-halwe vierkante kilometer het sy ontstaan aan 'n koraalrif te danke. Mosambiekeiland le enkele kilometer van die vasteland af oorkant 'n seestraat. 'n Brug met 'n lengte van drie kilometer, wat net vir motors, maar nie busse of vragmotors geskik is nie, verbind die eiland sedert 1960 met die hawestad Lumbo.

Geskiedenis [ wysig | wysig bron ]

'n Kerk op Mosambiekeiland
Fort Sao Sebastiao

Mosambiek het al vroeg 'n belangrike rol gespeel vir Islamitiese handelaars uit Zanzibar en hulle handelsbetrekkinge het tot by Asie gestrek.

Die Portugese seevaarder en ontdekkingsreisiger Vasco da Gama was in 1498 die eerste Europeer wat die eiland se sjeik, Moussa Ben Mbiki, ontmoet het. Die sjeik het ook die naamgewer van die eiland geword. In 1506 het die Portugese Tristao da Cunha en Alfonso d' Albuquerque die eilandstad beset.

Alfonso d' Albuquerque het in 1508 die fort Sao Sebastiao op die mees noordelike punt van die eiland teen aansienlike koste opgerig; daar is genommerde stene vir die fort uit Europa ingevoer. In 1607 en 1608 het die eiland Nederlandse aanvalle weerstaan.

Danksy die florerende slawehandel en gunstige geografiese ligging ontwikkel die stad tot een van die grootste en belangrikste hawens in Mosambiek. Ook goud en speserye is van hier uitgevoer. Met die opening van die Suezkanaal begin die ekonomiese agteruitgang van die eiland. Mosambiekeiland het tot met die jaar 1898 as die hoofstad van Mosambiek gedien; die setel van die koloniale regering is daarna verskuif na Lourenco Marques (die huidige Maputo ) in die suide van die land.

Tot aan die einde van die 19de eeu was die stad, wat ook as 'n belangrike sentrum vir Christelike sendelinge gedien het, die setel van die goewerneur-generaal en van 'n biskop. Sy pragtige historiese geboue sluit die goewerneurspaleis, die katedraal, 'n doeanekantoor, 'n tuighuis en die stylvolle kantore van Franse, Switserse en Duitse handelshuise in.

Die stad se bevolking het uit sowat 150 Europeers (meestal Portugese), enkele honderd Baniane (wat die handel met Indie oorheers het), 'n aantal Sjinese en Arabiere en tussen 4 000 en 5 000 Makoea bestaan. Mosambiekeiland het sedert die einde van die 19de eeu en weens die gevolge van die Mosambiekse burgeroorlog, toenemend verval.

Bevolking [ wysig | wysig bron ]

Tans is oorbevolking een van die grootste probleme van die eilandstad: Daar is een inwoner per 27,6 vierkante meter. Die oorgrote meerderheid van die bevolking woon in die riethuise van Makutistad in die suide van die eiland.

Eksterne skakels [ wysig | wysig bron ]