in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Upingtonia
, later bekend as
Lijdensrust
, was 'n
Boererepubliek
met 'n kortstondige bestaan in die omgewing van die huidige
Grootfontein
in
Namibie
.
Die landstreek le ongeveer tussen 18° en 20° suid en 15° en 20° oos. Veral die oostelike grens was nie duidelik vasgepen nie. Aan die westekant was Okahakama en
Okaukeujo
(in die
Etoshapan
) en aan die oostekant Grootfontein,
Otavi
en die
Waterberg
in die gebied.
Bekende persone betrokke
[
wysig
|
wysig bron
]
- du Plessis, Louwrens Marthinus (Louw), gebore in die
Kaapkolonie
in 1837 en oorlede by Chee in
Angola
in 1911. Hy was 'n leier ten tyde van die
Dorslandtrek
.
- Heinrich Goring
- Jordan, William Worthington, gebore in
Wynberg
,
Kaapstad
in 1849, vermoor deur Kambonde se broer Nehale Mpingana naby Olukonda in
Ovamboland
op 30 Junie 1886. Soms word sy van gespel as Jordaan. Hy het naam gemaak as handelaar, jagter en skrywer.
- Lewis, Robert, gebore in
Londen
in Junie 1841 (?) en verskeur deur 'n
luiperd
in Julie 1890. Hy was 'n pionier, avonturier, fortuinsoeker, swendelaar, smous en sweep die Damaras op teen die Boere.
- Maharero, die
Herero
-hoofman is rondom 1820 gebore en is oorlede op 5 Oktober 1890 by
Okahandja
- Prinsloo, George Diederik P., is gebore in die distrik van
Middelburg
in die destydse
Transvaal
op 18 Mei 1820 en sterf in 1888. Hy was 'n leier ten tyde van die Dorslandstrek en president van Upingtonia.
- Thomas Upington
Jordan het in 1885 'n gebied van 2 500 km² van 'n
Ovambo
-hoofman Kampingana en sy seun Kambonde vir 300 gewere, 'n perd en 'n vat brandewyn gekoop. Maar die
Boesmans
,
Damaras
en die
Herero
is nie in die verkoop geken nie.
Na enkele jare in
Angola
wou 'n aansienlike aantal Dorslandtrekkers graag Angola verlaat. In Augustus 1884 is Jordan by daardie boere noord van die
Kunenerivier
en haal 'n aantal van hulle onder leiding van Louw du Plessis met 'n belofte van plase oor om hulle suid van die rivier te vestig. Aan 'n veertigtal Boere is plase toegeken, maar die handels- en mineraleregte het weens die aanwesigheid van
koperts
rondom Otavi en Grootfontein die eiendom van Jordan gebly. Jordan het hard probeer om Britse steun vir hierdie vestiginspoging te kry, maar slegs die premier van die Kaapkolonie, Thomas Upington, het halfhartig sy belangstelling getoon. Toe die grondwet op 20 Oktober 1885 aangeneem word, is die republiek Upingtonia uitgeroep en Prinsloo is as president gekies met 'n raad van 13 lede.
Weens die onsekere toestande in die grensgebiede en 'n gevoel van onveiligheid onder die Boere het hulle voorlopig in hartbeeshuisies by die fonteine (die huidige Grootfontein) bymekaar gewoon. Daar het hulle op die vrugbare grond
koring
,
tabak
en
mielies
verbou.
Lewis het Maharero gebruik om Jordan in sy planne te dwarsboom omdat Lewis self die koperkonsessie by Otavi wou verkry. Maharero het die Boere gevrees en Jordan gehaat. Maharero beweer nou op aanstigting van Lewis dat Kambonde geen reg gehad het om die gebied aan Jordan te verkoop nie en dat die Boere boonop al die wild aan die uitroei is. Daarom wil Maharero dat die verkooptransaksie nietig verklaar word. Lewis verklaar oorlog teen die Boere. Hierna trek sekere Boere weg, sommige suid na die Waterberg, ander na Transvaal. Maar tien families bly op Grootfontein agter. Die Boere nader Goring om beskerming en op hul versoek word hul staatjie 'n Duitse protektoraat. Dit hou egter nie veel in nie, want die Duitsers se gesag in
Duits-Suidwes-Afrika
was op daardie tydstip maar swak. Wel slaag die Duitsers daarin om die naam van die republiek van 'n Engelse naam na Lijdensrust te verander. Boonop word Jordan op aanstigting van Lewis op verraderike wyse vermoor. Inboorlinge, malaria, droogte en 'n gebrek aan weivled teister die oorblywende Boere. Met die gevolg dat hulle ook die gebied verlaat en na Angola, of Transvaal of
Omaruru
verhuis. Die Boerekolonie word in 1887 by Duits-Suidwes-Afrika ingelyf en die bewindhebbers in
Windhoek
was van mening dat mettertyd nog meer Boere uit die Transvaal hulle in hierdie gebied sal vestig.
- Trumpelmann, G.P.J.: Die Boer in Suidwes-Afrika.
Universiteit van Pretoria
: doktorale proefskrif. Gepubliseer in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, elfde jaargang, deel 2, 1948.
|
---|
Gestig tussen 1795 en 1830
| |
---|
Gestig tussen 1830 en 1840
| |
---|
Gestig tussen 1840 en 1870
| |
---|
Gestig tussen 1880 en 1902
| |
---|