Leonard Cohen

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Leonard Cohen
Leonard Cohen in 1988
Agtergrondinligting
Geboortenaam Leonard Norman Cohen
Gebore ( 1934-09-21 ) 21 September 1934
Montreal , Quebec , Kanada
Sterf 7 November 2016 (op 82)
Los Angeles , Kalifornie , Verenigde State
Genres Folk, folk rock, rock, spoken word -digkuns
Beroep(e) Sanger, liedjieskrywer, musikant, digter, romanskrywer, skilder
Instrumente Stem, kitaar, klavier, klawerbord, sintetiseerder
Jare aktief 1956?2016
Etikette Columbia
Assosiasies Sharon Robinson, Jennifer Warnes, Anjani Thomas, Judy Collins, Julie Felix
Webwerf leonardcohen.com

Leonard Norman Cohen ( 21 September 1934 ? 7 November 2016 ) [1] was 'n Kanadese sanger , liedjieskrywer , musikant, digter en romanskrywer wat in die 1960’s gewild geword het. Hy het ’n baie lae sangstem gehad en sy vroee liedjies is bekend vir hul hartseer en neerslagtige toon. [2]

Cohen het sy grootste suksesse in die 1960's behaal en word naas Bob Dylan en Paul Simon as een van die invloedrykste musikale kunstenaars van die periode beskou. Hy het tot in die 21ste eeu gehore met sy unieke diep stem en melancholiese sangstyl vermaak. Sy werk behandel dikwels temas van godsdiens, seksualiteit en die verhoudinge tussen mense. Onder sy bekendste liedjies tel " Suzanne " (1968) en " I’m Your Man " (1988). Sy lirieke het vir meer as vyftig jaar lank 'n beslissende invloed op ander musikale kunstenaars en skrywers uitgeoefen.

Leonard Cohen is deur die Amerikaanse Rock and Roll Hall of Fame asook die Kanadese Music Hall of Fame en Songwriters Hall of Fame vereer. Die sanger het daarnaas die hoogste burgerlike toekenning in Kanada, die Ordre du Canada/Order of Canada, ontvang.

Biografie [ wysig | wysig bron ]

Cohen is op 21 September 1934 in Westmount , 'n Engelssprekende voorstad van Montreal , Quebec , in 'n Joodse middelklasgesin gebore. Sy ma, Marsha (Masha) Klonitsky, 'n boorling van Kaunas , was die dogter van 'n Talmoediese skrywer van Litaus -Joodse afkoms, Rabbi Solomon Klonitsky. Sy oupa aan vaderskant, wat saam met sy gesin in 1927 uit Pole na Kanada geimmigreer het, was die stigterspresident van die Kanadese Joodse Kongres.

Sy pa, Nathan Cohen, die eienaar van 'n betreklike groot klerebesigheid, is oorlede toe Cohen nege jaar oud was. Die Cohens was aanhangers van Ortodokse Judaisme, 'n stroming binne die Joodse godsdiens waarin tradisie en 'n streng onderhouding van die Wet van Moses sentraal staan, en lede van die Shaar Hashomayim-kongregasie, 'n Joodse Asjkenasi-gemeente in Westmount waarmee Cohen gedurende sy gehele lewe bande gehandhaaf het. [3]

Hy is op 7 November 2016 in Los Angeles in die Verenigde State oorlede. Sy vyftiende ateljee-album Thanks for the Dance met nege nuwe liedere, waaraan Leonard Cohen kort voor sy afsterwe nog aan gewerk het, is deur sy seun Adam voltooi. Dit is in November 2019 postuum vrygestel.

Verwysings [ wysig | wysig bron ]

  1. ( en ) "Leonard Cohen, singer-songwriter of love, death and philosophical longing, dies at 82" . Washington Post. 11 November 2016 . Besoek op 11 November 2016 .
  2. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  3. Toronto Star, 11 November 2016: Leonard Cohen buried quietly on Thursday in Montreal

Eksterne skakels [ wysig | wysig bron ]