in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die
Derde Konsilie van Konstantinopel
van die Christelike kerk in die
Romeinse Ryk
was die
sesde ekumeniese konsilie
en is in
680
byeengeroep deur keiser
Konstantyn IV van Bisantium
tydens die
pousskap
van
Agato
en
Leo II
. Die leerstelling van
monoteletisme
is bespreek en uiteindelik deur beide die konsilie en die pous verwerp. Daar is besluit
Christus
is werklik God en werklik mens, elk met sy eie wil en energie.
Monoteletisme was ’n kompromisleerstelling wat deur patriarg Sergius I van Konstantinopel voorgestel is met die ondersteuning van keiser
Herakleios
nadat die
Tweede Konsilie van Konstantinopel
nie daarin kon slaag om die
Miafisiete
terug te lok na die kerk nie. Laasgenoemde groep het geglo dat Christus net een natuur en een wil het, in teenstelling met die kerk se standpunt soos geneem op die
Konsilie van Chalcedon
dat Hy ’n menslike en goddelike natuur het.
Aangesien niks by Chalcedon oor Christus se wil besluit is nie, was monoteletisme ’n kompromis tussen die Chalcedoniers, wat kon aanvaar dat Christus een wil het as Hy twee nature het, en die Miafisiete, wat kon aanvaar dat Christus twee nature het as Hy een wil het.
Die leerstelling is deur verskeie pouse teengestaan en het gelei tot ’n skeuring tussen die kerk in die
Oos-Romeinse
en
Wes-Romeinse Ryk
. Met die dood van Herakleios in
641
is hy deur sy kleinseun
Konstans II
opgevolg. Die het ’n verbod op die bespreking van God se wil en energie geplaas in ’n poging om verdere onenigheid te voorkom.
Pous Martinus I
, ’n groot teenstander van monotelitisme, het in 649 ’n sinode in
Rome
gehou wat die leerstelling en Konstans se verbod op die bespreking daarvan verwerp.
[1]
Hy het pogings gesteun om die bewind oor te neem omdat hy geglo het ’n nuwe en ortodokse keiser sou goddelike beskerming vir die ryk kry teen sy vyande. Dit is egter as hoogverraad beskou en pous Martinus is verhoor, skuldig bevind en verban.
[2]
Met Konstans se dood in
668
is hy opgevolg deur sy seun
Konstantyn IV
. Hy wou vrede met Rome herstel en het dadelik aan die pous geskryf en gevra dat ’n konferensie oor die saak gehou word.
Op
7 November
680
het slegs 37 biskoppe byeengekom vir die Derde Konsilie van Konstantinopel. ’n Brief van pous Agato is voorgelees waarin hy die amptelike beleid van die kerk stel: dat Christus ’n goddelike en ’n menslike wil en energie het.
Die meeste van die biskoppe het die brief aanvaar. Daar is terselfdertyd besluit dat Christus se menslike wil "onderworpe is aan sy goddelike en almagtige wil". Die besluite is na Agato se opvolger, Leo II, gestuur en hy het dit bekragtig.
[3]
- Hierdie artikel is vertaal uit die
Engelse Wikipedia
- ↑
Joseph N. Tylenda,
Saints and Feasts of the Liturgical Year
, (Georgetown University Press, 2003), 60.
- ↑
A. Edward Siecienski,
The Filioque: History of a Doctrinal Controversy
, (Oxford University Press, 2010), 74.
- ↑
Joseph Brusher, S.J.,
Popes Through the Ages
Geargiveer
6 Februarie 2006 op
Wayback Machine
.