Aisin-Gioro 'Henry' Puyi (Sjinees: 愛新覺羅?溥儀 / ?新???溥? , Aix?njueluo P?yi) is op
7 Februarie
1906
in
Beijing
gebore. Die hoogs invloedryke
Keiserin-weduwee en regentes Cixi
het hom op haar sterfbed as keiser aangewys, waarna hy in Desember 1908 op die ouderdom van twee jaar en tien maande oorgeneem het by die vorige keiser, Guangxu, wat op 14 November oorlede is. Guangxu was die keiser van 1875 af tot met sy sterfte.
Puyi was dus nie 'n kind van die vorige keiser nie, maar wel steeds die seun van 'n prins van die Qing-dinastie.
Sy pa was Zaifeng, prins Chun II, wat as keiser-regent in sy plek sou waarneem totdat hy oud genoeg sou word om self te regeer. Hy het nie sy ma geken nie en is deur
eunugs
grootgemaak.
Omdat hy nou die keiser was, kon hy egter doen wat hy wou en niemand is toegelaat om hom te straf nie, is vertel. Dit het beteken dat hy toomloos te kere kon gaan en selfs die eunugs daagliks laat slaan het vir geringe oortredings. Hy het hulle tot met sy windbuks geskiet, terwyl hulle niks kon doen om die sadistiese klein tirannetjie vas te vat nie. Piyu het later vertel dat sy oppasster, Wang Wen-Chao, die enigste mens was wat hom kon beheer. Hy het snags by haar geslaap waar sy hom tot op sewe jaar nog geborsvoed het, maar sy is weggestuur toe hy agt was.
Sy jong lewe sou juis in die tyd radikaal verander. Die Xinhai-rewolusie breek in Oktober 1911 uit en Puyi doen op 12 Februarie 1912 afstand van die troon. Hy bly amptelik tot 1924 die keiser, maar is in der waarheid 'n gevangene in die
Verbode Stad
.
In 1917 word Puyi opnuut as keiser van China uitgeroep nadat Zhang Xun, een van die krygshere, daarin geslaag het om die Chinese hoofstad, Beijing, te verower. Hy probeer die keiserryk herstel deur Puyi weer op die troon te plaas.
Twaalf dae later word die keiserryk deur 'n ander krygsheer, generaal Duan Qirui, tot 'n val gebring en moet Puyi weer van die troon afstand doen.
Tydens die
Japannese
besetting stig die Japanners die vasalstaat Mantsjoekwo. Om die bevolking ter wille te wees behou hulle Puyi as keiser, maar hy het weinig mag en is slegs 'n marionet van die Japanners.
Aan die einde van die
Tweede Wereldoorlog
word Puyi deur die
Rooi Leer
gevang en na die
Sowjetunie
geneem. In 1950 word hy deur die Sowjetowerheid aan die kommunistiese regime van
Mao Zedong
oorgegee en gearresteer omdat hy saam met die Japannese besetters gewerk het. Hy word in 'n "heropvoedingskamp" vir oorlogsmisdadigers in
Shenyang
en later
Harbin
geinterneer.
In Desember 1959 verkry hy amnestie van Mao, waarna hy persoonlik deur premier Zhou Enlai ontvang word.
'n Geruime tyd later word hy die tuinier in die botaniese tuin van Beijing. Die gewese keiser, wat op 'n ander keer selfs die strate gevee het om te oorleef, publiseer in 1964 sy outobiografie,
Van keiser tot burger
(
From emperor to citizen
).
Hy is op
17 Oktober
1967
as 'n vry man in Beijing aan kanker oorlede. Hoewel hy vyf keer getrou het, het hy geen kinders gehad nie.
Puyi se lewensverhaal is deur die Italiaanse regisseur
Bernardo Bertolucci
as
L'Ultimo Imperatore
(1987) (
The Last Emperor
) verfilm.