한국   대만   중국   일본 
Beeld Plus Dinsdag 05 Oktober 1999 Bl. 3: Ek glo nie aan muses nie - Anna M Louw
The Wayback Machine - https://web.archive.org/web/20100829095622/http://152.111.1.88:80/argief/berigte/beeld/1999/10/05/3/1.html

Ek glo nie aan muses nie - Anna M Louw

Anna M Louw

Stephanie Nieuwoudt

Anna M. Louw (85) waarsku dadelik: moenie haar uitvra oor haar ouderdom nie. Dis die kwaliteit van die boek wat tel. Haar ouderdom het niks te make met haar jongste boek, Vos, nie. Sy is vies oor 'n radio-onderhoud waarin gehamer is op haar agt dekades. Maar tog. Sy het immers in die verlede interessante uitsprake oor die ouderdom gedoen. Daar is vrae oor ouer wees. Maar dit kan wag. Vir Vos maak Louw, soos in haar vorige werk, van argetipes gebruik in Die groot gryse het sy 'n Hindoe-argetipe gebruik en in Kroniek van Perdepoort die sewe doodsondes. In Vos is dit die eeue-oue verhaal van Faust verplaas na die dorre landstreek van die Noordweste van Suid-Afrika. 'n Gebied wat geknel word deur droogte en die hoofkarakter Vos dwing om sy siel te verkoop. Die tussenganger is 'n ou San-man, Hans Bokpoot (vanweë die twee tone aan sy een voet) 'n leidraad oor die verbintenis met die bose. ``Toe ek grootgeword het en hier gee ek die barre feit dat ek redelik oud is, weg was daar volop Khoi en San wat op die plase gewerk het. Daar was 'n San-stam waarvan die lede weens genetiese mutasie gekenmerk is aan hul voete met twee tone.'' Uiteindelik word die bose deur 'n predikant uit Vos gedryf en vat hy die pad om die Boodskap aan ander te verkondig. Die mistieke is 'n kenmerk van Louw se werk. ``Ek het as kind al mistieke ervarings gehad. Ek sou deur die veld loop en dit sou wees asof 'n gordyn skielik voor die alledaagse lewe weg is. Ná so 'n ervaring sou ek 'n gevoel van geweldige liefde ervaar. Paul Kruger het ook die groot liefde ervaar soos ek dit in Die groot gryse my beste boek beskryf het.'' Ook Vos moet die liefde herwin. Dink sy, wat in Calvinia grootgeword het, daar is iets in die Karoo-landskap wat mense dwing om skeppend te wees? ``Daar is nie veel om te doen nie. Omdat daar niks op die grond is nie, kyk jy op na die sterrehemel en daar is 'n gevoel van wonder wat in jou opbou.'' Haar onderbewussyn stuur goed op wat in haar boeke gebruik moet word. ``Ek glo nie aan muses nie, maar my lastige onderbewussyn is gedurig besig om iets van agter af na die bewussyn te druk wat sê `dis nou my beurt' .'' Louw was voorheen diaken in die NG Kerk, maar soos Vos het sy ook al geloofskrisisse ervaar. ``Ek bid nou weer,'' sê sy. ``Ek het vir lank nie enige gebede gehad nie, maar ek is nou weer op my knieë gedwing. ``Met tyd leer jy tevredenheid dat jy nie die uiteindelike antwoord sal kry nie. Jy moet maar wag en hoop op 'n re¨nkarnasie.`` Sy glo dus in re¨nkarnasie? ``Ek kan nie daarin glo nie. Daar is geen bewys dat dit my in my lewensgang kan help nie. Die geloof in re¨nkarnasie het die mense van Indië byvoorbeeld nog nie goed gedoen nie. Hulle lewe volgens streng beginsels wat hulle dikwels daarvan weerhou om verantwoordelikheid te aanvaar. Hulle moet goeie karma opbou. Intussen bly hulle in ellende, armoede, hongersnood, vasgevang. Ek probeer net my bes om niemand kwaad te doen nie.'' Die re¨nkarnasie-draad loop sterk deur Vos. Wanneer hy by 'n hupse vrou op 'n plaas aandoen, sê sy sy kan nie wag vir 'n volgende re¨nkarnasie nie. Vos se herontdekking van God is ook 'n soort re¨nkarnasie. Haar skryfwerk laat Louw soms met vrae. ``Dis 'n selfsugtige bestaan. ``Ek kan mos gaan koppies pak vir die kerk. Of kollekteer vir iets. Maar nee, ek sit in my studeerkamer en tik op my tikmasjien.'' Jare gelede, toe sy nog lid was van 'n paneel kenners wat die sensuurraad van raad moes dien, is Louw in 'n Engelse dagblad as 'n konserwatiewe Afrikaner-vrou bestempel. ``Miskien is ek konserwatief. Maar wat beteken die woord? Soms word ek mislik as ek sien hoe mense op seksuele gebied tekere gaan. So baie van 'n mens se geestelike energie raak verlore in seksuele losbandigheid. Nou praat ek soos 'n vrou wat frigid was,'' sê sy, en lag met groot binnepret. Die begeerte na die lyflike word erken in haar boeke. Wanneer Vos by 'n vrou aandoen wie se man elders is, eindig hy saam met haar in die bed. Hy word ook uitgelok deur 'n eensame weduwee. ``Seks is dinamiet. 'n Mens moet van jongs af leer om dit te beheer. Maar ek wil nie preek nie,'' sê Louw, wat vyf volwasse kinders het. Die leser voel in Vos die skerp eensaamheid van 'n uitgestrekte, dikwels onherbergsame landskap en verstaan die eensame desperaatheid van die alleen-vroue. Het sy dié eensaamheid ervaar? ``Dis die mens se lot om 'n tweeledige geesteslewe te hê. Aan die een kant het ek die behoefte om 'n kluisenaar te wees en aan die ander kant is daar die partytjiemens. ``Die laaste jaar voordat Vos verskyn het, het ek my afgesonder om die boek klaar te kry. Dit moes klaar. Ek moes al dood gewees het. Dis die Evas-kruis om oud te word. Oral is 'n oortollige mengelmoes vroue. Dit maak my moeg. Ek is lief vir my eie geslag, maar ek is bly as daar ook 'n klomp mans bykom.'' Vos word reeds deur sommige kenners hoog aangeslaan. Daar word gesê dit gaan dieselfde soort erkenning kry as van haar ander werk Kroniek van Perdepoort (Hertzogprys, CNA- en W.A. Hofmeyr-prys) en Die groot gryse (W.A. Hofmeyr-prys). Oor haar jongste werk sê sy self: ``Dis 'n goeie boek.''


SKRYWERS