Ons was in Kaapstad. Ons het sommer die geleentheid gehad om vir Barnie Germishuys te ontmoet. So ook Johan Hougaart - twee manne wat 'n baie groot rol gespeel het om die toestemming te kry vir die vuurtoringtog van ons. Manne wat dit steeds maklik maak vir ons om al die torings te besoek. Die afgelope week het Portnet ook 'n plan goedgekeur dat die torings ontwikkel moet word vir toerisme. Dis nie net die Voetsporespan wat die vorreg sal he nie. Ons stel dit bloot voor, en mense sal kom van heinde en verre om die torings te sien.
In die verlede is mense uitgenooi om die torings te besoek. Daar is selfs gratis kos en verblyf aangebied. Dit net om die manne wat die torings oppas van hulle eensaamheid te help verlos.
Ons het begin by Groenpunt. Dis die oudste toring in Suid Afrika, ook een van die mooistes. Staan reeds hier sedert 12 April 1824. Die toring is ontwerp deur Herman Schutte wat 1820, toe die Setlaars in die Oos Kaap aangekom het, die toring begin bou het. Dit het vier jaar geduur. Die oorspronklike koste was 5420 pond. Hier by die toring is die eerste vuurtoringwagters van Suid Afrika opgelei. Vandag word dit steeds aktief gebruik om konferensies te hou, en daar is ook 'n uitstalling van aandenkings oor die torings aan ons kus. Met die dat die toring in Kaapstad self is sal dit waarskynlik die een wees wat die heel meeste deur toeriste besoek word.
Van Groen Punt is ons na Slangkoppunt. Dis die hoogste staaltoring in die Land. Van sy basis tot by die vloer van die kop 'n hele honderd voet. Die toring is in Britanje gebou en ontwerp, hierheen verskeep en soos 'n reuse Mecano-stel stuk-stuk aanmekaar gesit. Dit is reeds voltooi in 1916, maar die Eerste W?reldoorlog het daartoe gelei dat dit eers in 1919 operasioneel geraak het. Op die 4e Maart 1919 het hy begin om vier flitse elke dertig sekondes te gooi. Eers was dit bykans 10 miljoen kerskrag, maar die is later verminder tot 5 miljoen. Sodra Chapmans Peak Drive weer oop is, sal baie mense hier na Kommetjie toe kom om na die kunswerk in staal te kom kyk.
Ons is terug Tafelbaai hawe toe. Daar het ons by die Waterfront kaartjies gaan koop vir die ferry oor Robben Eiland toe. Ons moes bietjie wag, want die Nasionale Intelligensiediens was besig om die FBI te onthaal en oor te neem met 'n ander boot na die eiland toe. Polisieduikers het die bote ge-inspekteer. 'n Hele affere. 'n Hele boot vol spy's. Praat in kode, in mikrofone in hulle horlosies en baadjiekraag. Ruil dokumente uit met geheime skrif. Speel James Bond.
Eindelik het ons met 'n latere boot op die eiland aangekom. Mervyn is die vuurtoringwagter hier waar daar skool vir politici was. Hy is reeds 37 jaar vuurtoringwagter, en werk tans vir die tweede keer hier op die eiland. Hy het ons deurgeneem na sy toring. Die enigste in Suid Afrika wat flits en nie draai nie. Al die ander torings gooi straal uit wat draai. Op 'n afstand lyk dit of hy flits, maar in der waarheid is dit net Robben eiland se toring wat werklik flits. Aan en af skakel.
Die toring staan reeds hier sedet Januarie 1865, maar in 1658 het Jan van Riebeeck reeds gevra dat daar 'n lig opgerig word op die eiland in die baai. Die lig is egter eers sowat 200 jaar later opgerig op die beroemde eiland. Die toring staan op Minto heuwel, die hoogste vlak van die eiland. In Van Riebeeck se dae is daarna verwys as Vuurberg, want skepe van die Verenigde Oos Indiese Kompanjie is van daar gewaarsku oor die gevare van die eiland. As jy weer Robben Eiland toe gaan, maak die keer ook 'n draai by die vuurtoring.
Ons het nog net een toring oor gehad. Dis maar moeilik om te kompeteer met wat mens dusver die dag gesien het, en daarom was die toring in die voorstad Milnerton ietwat van 'n teleurstelling. Maar soos al die 47 ander torings aan die Suid Afrikaanse kus vervul die 21 meter ho? beton toring met sy 3 flitse elke 20 sekondes wat 25 seemyl ver gesien kan word, 'n uiters belangrike rol.
Ons is nou bietjie meer as halfpad met ons vuurtoringjag vir die week.
Groete,
Die Votesporespan.
|