in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die term
jag
(afgelei van
Nederlands
jacht
, 'n verkorte vorm van die
Middelnederlandse
jachtschip
"jaagskip, vinnige skip") verwys tans na 'n watervoertuig wat vir sportdoeleindes of as
plesierboot
gebruik word en - met enkele uitsonderings - van 'n
dek
en tenminste een kajuit voorsien is. Jagte het 'n vaste
kiel
en 'n romplengte van gewoonlik tussen ses en 160 meter; korter watervoertuie word as boot beskou. Jagte word as tradisionele seiljagte of as motorjagte vervaardig. Die belangrikste kriterium, waarvolgens jagte van ander watervoertuie onderskei word, is hul uitsluitlike gebruik vir ontspanningsdoeleindes en die feit dat hulle of deur hul eienaar geloods (of as selfbestuur-jag verhuur) word of 'n ervare kaptein hiervoor aangestel word. Hul kapasiteit (onder meer die maksimum aantal passasiers en hul reikwydte) is 'n verdere kenmerk wat hulle van groot kommersiele plesierbote onderskei. Kleiner jagte is geskik vir dagtoere, terwyl groter jagte toegerus mag wees vir langer seereise.
Tot in die sewentigerjare van die 20ste eeu is sogenaamde klassieke jagte van materiale soos hout, aluminium en staal gebou. Vervolgens het werwe geleidelik begin oorskakel na
glasveselversterkte
plastiek - 'n materiaal wat ondanks sy ligte massa stewigheid aan die romp verleen en daarnaas deur hoe digtheid gekenmerk word. Terwyl die onderhoud daarvan vergemaklik word, maak die nuwe materiaal die grootskaalse vervaardiging van jagte in enige gewenste vorm moontlik. Selfs ongewone ontwerpe kan maklik verwesenlik word. Jagte uit hierdie moderne vervaardigingsperiode word "moderne klassiekes" (
modern classics
) genoem.
[3]
Moderne motorjagte is gesofistikeerde tegniese stelsels wat deur gespesialiseerde bootswerwe vervaardig en van modernste posisie-, navigasie- en stabiliseerstelsels voorsien word. Vir die grootste en modernste motorjagte word 'n hele ingewikkelde infrastruktuur van leweransiers benodig wat 'n groot verskeidenheid onderdele en toerusting verskaf, asook bekwame spesialiste soos skeepsbou-ingenieurs, ontwerpers en ambagslui. Die grootste jagte word derhalwe in gevorderde nywerheidslande soos
Duitsland
,
Italie
,
Frankryk
en die
Verenigde State
vervaardig. Van die modernste superjagte word van hibriedenjins voorsien.
Baie groot jagte met 'n lengte van meer as 100 meter val binne 'n besondere kategorie en word algemeen as super- of megajagte geklassifiseer. 'n Ander belangrike kriterium, waarvolgens ook kleiner jagte vanaf 24 meter by die definisie ingesluit mag word, is die fokus op gerieflikheid, spoed en reikwydte. Dikwels het super- en megajagte 'n vaste professionele bemanning wat saam met die jag gehuur kan word. Die grootste superjagte is in staat om kleiner watervoertuie soos motorbote te vervoer, in enkele gevalle selfs 'n helikopter. Daar is dikwels ook 'n swembad, sonterras, rolprentteater of konsertsaal aan boord. Hierdie soort jagte is - afhangende van die seisoen - veral gewild in die
Mediterreense
en
Karibiese See
.
- Vereniging van jagvervaardigers van Duitsland
- Internasionale bootboubedryf